TOPVENDOR JUDGE
YOLANDE EDELINKSI

Yolandé Edelinski - Bio

Troukoors is die plek waar my passie vir tydskrifte en my liefde vir troues bymekaarkom! As jy weet wat woorde soos kiekies, koffer en boeretroos beteken, sal jy verstaan waarom Troukoors so uniek en spesiaal is vir duisende Suid-Afrikaners. Die praktiese artikels, doen-dit-self-idees, maklike resepte en mooi huisdekor (alles trots Afrikaans, met ’n tradisionele twist) dra by tot die tydskrif se gewildheid.

Ek het MonChéri Events and Productions (mon chéri is Frans vir ‘my liefling’) in 2009 begin. Ek en my span het plaaslike sowel as internasionale paartjies gehelp met die beplanning van hulle mooiste dag. Ons werk en artikels het in verskeie tydskrifte, soos Wedding Inspirations magazine, Your Wedding Day, Sarie Bruid en Finesse tydskrif verskyn. My Engelse e-tydskrif het die Top Billing webblad se aandag getrek en die sukses van die publikasie het gelei tot die vertaling – Troukoors – in 2010.

Troukoors was ’n vars bries en heelwat anders as dit waaraan die publiek gewoond was. Die tydskrif was byvoorbeeld die eerste publikasie in Suid-Afrika om resepte en doen-dit-self-idees in te sluit in ’n troutydskrif. Verder is ons lief vir ons mooi taal en sal jy sommer van voor af verlief raak met al die oulike sêgoed regdeur die tydskrif.

The Little Pink Book het my in 2011 gevra om by hulle aan te sluit as ’n medewerker, saam met Edith Venter Promotions, By Word of Mouth en The Aleit Group. Die volgende jaar het ek ’n maandelikse skrywer vir Trou Inspirasie geword (die vervaardigers van die televisiereeks, Bruilof). 2015 was ’n groot jaar toe Troukoors se eerste gedrukte uitgawe op winkelrakke verskyn het. Ons het toe alreeds 50 000 lesers gehad wat ons op sosiale media volg (daar is tans meer as 70 000 nét op Facebook). Gedurende 2015 was ons ook bevoorreg om deel te wees van die Afrikaanse romantiese komedie, Trouvoete, en ’n mediaborg. Gedurende dieselfde jaar is ek gevra om die trouredakteur van Ezpre vrouetydskrif te wees.

In 2016 het ’n uitgewer my genader om Die Trouboek saam met Gretha Wiid te skryf en in 2018 het ek ons eie boek – Troukoors se Klein Swart Boekie oor Troues – gepubliseer. Hierdie jaar het ons Troukoors TV by die handelsmerk bygevoeg en is tans besig met die ontwikkelling van ons nuwe webblad, aanlynwinkel en ’n unieke reeks Troukoors-produkte.